|
Dis 'n grootse gebeurtenis en JY kan deel wees hiervan.Die konsep is eenvoudig maar uniek: jy vat die beste kok in die wêreld (Heidi Bouwer) en kombineer haar hemelse skeppings met goeie, oorspronklike Afrikaanse musiek uit die pen van bobaas liedjieskrywer, Corné. Jy bedien hierdie konkoksie in 'n heerlike intieme en eksklusiewe atmosfeer. Ons praat hier kos wat jy in geen ander restaurant of enige ander plek sal vind nie. Ons praat van smaaksensasies wat jou kulinêre ontwikkeling in 'n ander wentelbaan sal sit. Ons praat van musiek vir die denker wat nog steeds maklik op die oor val sonder om soos iets anders te klink. Ons praat van 'n unieke omgewing geskep deur Heidi en Corné self waar jy kan deel word van hulle bestaanswêreld. Hierdie is 'n eiesoortige ervaring. As jy dink jy het al iets soortgelyks ondervind, is dit net omdat jy nog nie hier was nie! So, waar kom die gedoente vandaan? Kom ons begin bietjie vroeër. Heidi Bouwer is een van die talentvolste en veelsydigste kunstenaars in die hele wye wêreld en veral in sonnige Suid-Afrika. Nadat sy haar paadjie van Wellington deur Bloemfontein (waar sy drama studeer het) tot in Gauteng gevind het, het sy as uitvoerende kunstenaar gewerk as TV aktrise, verhoogaktrise, multi-instrumentalis, skrywer, regisseur en bowenal as fenominale sangeres. Dan het die kreatiewe seëninge nie daar gestop nie! Sy het as skilder van haar werk in onder andere Alice Art Gallery gehad en verkoop steeds kunswerke privaat. Maar nogsteeds is dit nie die einde nie. Die dag toe sjefs gemaak is het sy in die heel voorste linies gestaan! Vir verskeie jare al onthaal sy vriende en familie dat hulle haar wil aanneem of self wil aanmeld as lid van die gesin. Nou het sy net slim geraak en hierdie passie word nou gebruik om 'n welkome geldjie te verdien. In ruil hiervoor kan jy deel wees van 'n smaakrevolusie wat jou wêreld op sy kop sal draai. As dit onmoontlik klink dat een mens so fantasties kan wees, gaan lees gerus wat sy al bereik het as deel van die vermaaklikheids- en kreatiewe kommunikasiebesigheid, Velvet Motion. As jy dan besig is om jou asem te herwin, gaan ook sommer na Heidi Bouwer, haar webtuiste vir haar Afrikaanse musiek.
As jy 'n Kos en Konsert sou bywoon met net Heidi, sou jy al iets beleef het wat net 'n paar gelukkige mense in hul leeftyd ondervind. Maar nee, ons het besluit om een stappie verder te gaan en Corné in te meng by hierdie alreeds fenominale konkoksie. Vir dié van julle wat nog nie heeltemal by is nie, Corné is 'n uitsonderlike liedjieskrywer wat na 'n nederige begin op 'n plaas in Ermelo-omgewing sy eie paadjie deur die landbouwêreld tot in Pretoria se musiekindustrie geloop het. Hy het begin as baskitaarspeler vir verskeie Afrikaanse ikone en met verloop van tyd het sy kreatiwiteit meer persoonlike uitlating gevind in die skryf van TV musiek en liedjies vir verskeie kunstenaars. Op 'n goeie dag het hy besluit om sy eie liedjies self te probeer sing. Tot sy eie verstomming het party mense daarvan gehou en so is nog 'n afdeling in sy loopbaan gebore. Tussen die geskrywery en gespelery deur is hy self nie 'n slegte kok nie en het blykbaar in sy losloper dae verskeie harte verower met 'n reseppie of wat. Dus was hy nie 'n slegte keuse om Heidi te help in die kosafdeling nie. In ruil vir liedjies wat hy vir haar skryf moet hy souse roer, skaapboude stop, vars kruie knip en met haar tango in die kombuis. Asof dit nie genoeg is nie kan jy ook sy handewerk kom aanskou in die gerestoureerde en geboude meubels, party kunswerkies en die blommerangskikkings. As jy weereens sukkel met al die verskeidenheid, loer gerus weer na Velvet Motion waar hy 'n vennoot is. Vergewis jouself ook van 'n vars stem van liriekgedrewe musiek in die Afrikanerdom en gaan loer in by Corné se webwerf.
Nou ja, as jy al die bogenoemde inligting bymekaar sit, kry jy die fenomeen van Kos en Konsert. Ons wil jou uitnooi om jouself en jou vriende, familie, besigheidsvennote, kennisse, of wie-ook-al te kom bederf met 'n unieke ervaring van uitsonderlike kos en oorspronklike Afrikaanse musiek. Lees gerus deur die inligting en bespreek sommer vinnig. Jy sal sien dat ons dienste in verskillende formate beskikbaar is. Ons bied gewoonlik elke Vrydagaand 'n gewone Kos en Konsert aan waar jy heerlik kan kom smul en jou ore bederf met goeie musiek. Jy kan meer hieroor lees onder die Kos en Konsert afdeling. Vir besighede wat hulle werkers, kliënte of ander belangrike persone wil beïndruk met 'n heerlike aandjie uit het ons net die oplossing. Julle kan ook wegbreke, dinkskrums, spanbou en al sulke besigheidsverskonings hier kom pleeg sonder enige skuldgevoelens. Lees asseblief verdere hieroor in die Korporatiewe Funksies afdeling. Om seker te maak dat ons soveel as moontlik mense kan help om Heidi Bouwer en Corné se kreatiwiteit te geniet, bied ons ook private funksies aan vir dinge soos damesoggende, verjaarsdagvieringe, kleiner troues en dies meer. Lees gerus hoe ons jou kan help om 'n spesiale en unieke geleentheid te skep onder die Private Funksies afdeling. Vir die mense wat so mal is oor Kos en Konsert dat hulle net eenvoudig nie kan wegbly nie, is daar ook 'n verrassing. Ons het begin met Klub KOK. Om te sien wat die vereistes is om te kwalifiseer, lees die Klub KOK afdeling. Dis 'n lojaliteitsklub wat mense erken en vergoed wat op 'n gereelde grondslag by Kos en Konserte opdaag met nuwe vriende. Pryse sal wissel van gratis toegang by Kos en Konserte of openbare optredes van Corné of Heidi, tot CD's en produkte uit hulle reeks van produkte wat aan die ontwikkel is. Laaste, maar nie die minste nie, ons sal dit baie waardeer as jy sou registreer as 'n gebruiker van hierdie webwerf. Dis 'n heel eenvoudige proses en as jy inteken sal jy ons gereelde nuusbriewe ontvang om jou op hoogte te hou van wat volgende gebeur. Om die hele proses minder soos 'n proses en meer soos avontuur te laat voel, sal jy een van Heidi se wonderlike skeppings se resep ontvang as jy registreer, gratis en verniet! As jy dan geregistreer is, val sommer gereeld in en laat weet ons wat jy dink. Ons plaas ook getuigskrifte van ander mense se ervarings onder Mense besing ons lof. Gaan lees dit gerus as jy om een of ander duistere rede nog wonder of jy jouself hier moet kom tuismaak. Hoekom uitstel, registreer sommer onmiddelik hier. Sekere gedeeltes van hierdie webwerf sal slegs beskikbaar wees vir geregistreerde gebruikers. Hiermee rus ons ons saak. Onthou, ons is klein en eksklusief en spits ons verseker toe op 'n uitgelese gehoor. As jy dus in bogenoemde klas val, kontak ons gerus. Ons sien uit daarna om jou deel van ons wêreld te maak vir 'n unieke en onvergeetlike ervaring van Uithaler kos en oorspronklike Afrikaanse musiek. Andersins kan jy ons 'n guns doen en vriendelik verder op die internet voortploert. Jy hoef regtig nie aan te meld vir die Kos en Konsert ervaring nie. |